Die labirint se kronkelpad lei my al verder van die middelpunt en raak verstrengel met ander se paadjies. Die bol gare in my hande word al kleiner en kleiner soos ek deur die labirint loop en die gare, saam met ander s’n, soos ‘n web agter my laat. Om my is die groen mure, die baksteenmure, die ogies- en lemmetjiesdraad té hoog om oor te klim. As ek maar net die labirint van bo kon sien sou ek dalk antwoorde kon kry.

Is die labirint dalk ‘n ewigdurende sirkel; ‘n wiel wat slegs om en om beweeg waarin die eras, jare en seisoene hulle slegs herhaal? Of dalk is dit slegs vierkantig of reghoekig? Of dalk, soos die Nazca-lyne, sal dit prente vorm wat net van die wolke af gesien kan word en in geheim gehul is vir die sterflikes.

Maar ek stap steeds. Onder my voete is daar grond, gruis, gras. Herinneringe wat naderhand tot stof vertrap word soos wat hulle oor en oor en heen en weer in my kop ronddobber. Ek loop en loop deur die gange van my gedagtes terwyl die bol afrol. Iewers ver agter my is die beginpunt van die bol. Iewers in die middelpunt van die labirint. Iewers… maar ek kan nie fisies terugkeer nie. Die gare kan nie netjies opgerol en op ‘n ander pad geneem word nie. Dit wat reeds op die gare geëts is kan nie weer uitgevee word nie. Die wol kan nie weer wit gemaak word nie. En vir die hoeveelste keer wonder ek of daar net een pad uit die labirint is, of baie. Kan my voete al die tyd net hierdie een grond-gruis-gras pad volg? Kán wol weer wit gemaak word?

Ek stap verby ‘n lang gang vol portrette. Ek weet wie die gesigte in die olieverf is. Ek was daar toe elkeen omgekom het. Ek was die laaste een om hulle hande te neem. Ek was die laaste een wat hulle gesien het. Ek is die een wat hulle gare geknip het. Ander het dit dalk gespin en gemeet maar ek? Ek het net ‘n skêr gekry. Ek stap verby en kyk nie weer na die gesigte van dié wat onder my toesig deur die skoppensboer kom haal is nie.

Is dit reg dat ek – ek wat gare knip en weef en spin en sien hoe dit alles voor my oopvou soos ‘n fyn tapisserie – nou ook my eie pad moet stap om net aan die einde my eie gare te moet knip? Of gaan iemand anders dit knip?

Miskien gaan die gare net opraak.

Sal die uil ook vir my kom roep of die sterre vir my kom sing? Of wag net die skoppensboer?

Die gare word al minder en minder.

Maar my hande is nog nie moeg nie.

“Labirinte” kan verder gelees word op Wattpad.

Advertisements