Die mate waartoe ’n taal kan groei en verander – veral kleiner tale – moet nie onderskat word nie, selfs nie in die geglobaliseerde wêreld waarin ons vandag woon nie. Daar moet, byvoorbeeld, nie aangeneem word dat almal Engels magtig is nie. Dit is ook nie nodig om slegs Engels te gebruik nie, veral nie as die nodige terminologie in ander tale beskikbaar is nie. Indien daar nie terminologie beskikbaar is nie (soos die geval is met, byvoorbeeld, tegnologie wat so vinnig verander), kan daar werk van gemaak word om hierdie terminologie te skep. Daar blyk egter die veronderstelling te wees dat sekere terminologie nie in sekere tale kan bestaan nie. Dít is egter onsin.

Foto: Gratisography

Elke dag word nuwe woorde geskep of bestaande woorde aangepas deur die sprekers van die taal. Daar is ’n kans vir kreatiewe, speelse neologismes en om die “gevoel” van die taal in hierdie nuwe woorde oor te dra. Ons twiet, hou van blaaie en luister na ’n potgooi. Ons neem ’n kiekie van die rekenaarskerm en draadloos verwys nie meer net na ’n radio nie. Ons wil Facebook en Google in Afrikaans sien. In plaas daarvan dat die taal stilstaan en stof opgaar, groei en gedy dit elke dag. 
Die vorming van nuwe woorde is eintlik ’n wonderlike manier om die taalgemeenskap in aksie te sien. Deur ook ’n Afrikaanse gebruikerkoppelvlak vir soveel programme as moontlik te skep kan ander tale ook dié voorbeeld volg en hulle eie tale op hierdie manier aanwend en laat groei.

Taal is tog daar om aan sprekers se behoeftes te voldoen – hoekom sal ons dit nou nie ten volle benut nie?
Advertisements